Tutuba – het meisje van het slavenschip Leusden Voorbeeld Klousules

Tutuba – het meisje van het slavenschip Leusden. Cynthia McLeod is bekend vir haar historiese romans oor die geskiedenis van Suriname onder andere De vrije negerin Elisabeth en Hoe duur was de suiker? waarvan ’n filmweergawe in 2012 in die omgewing van Franschhoek in die Wes-Kaap gemaak is. Die verhaal word aangebied as ’n historiese novelle wat die verhaal vertel van die vyftienjarige jongmeisie Tutuba – sy word 3 dae voor haar huwelik gevang deur menserowers en aan die kus van Elmina verkoop aan Nederlandse slawehandelaars vanwaar hulle na Suriname verskeep word. Tutuba word saam met ’n paar ander vroue op die bo-dek aangehou waar hulle beurtelings deur die bemanning verkrag word. Na 41 dae bereik hulle die kus van wat vermoedelik die Suriname-rivier is, maar in werklikheid is dit die Marowijne-rivier waar die skip op die sandbanke loop en ’n gat in sy romp kry en gevaar loop om te sink. 655 van die slawe word in die ruim gedwing en die luike toegespyker waar hulle uiteindelik verdrink. Tutuba en die ander asook die volle bemanning verlaat die skip op twee bote en bereik uiteindelik Paramaribo. Enkele dae daarna word sy verkoop aan die eienares van ’n suikerplantasie te Breukelerwaard waar sy as slavin werk en die naam Minerva kry. Sy sterf op die ouderdom van 43 (De Kater, 2014). Die verhaal word deur ’n derdepersoonsverteller beurtelings vanuit die fokalisasie van Tutuba en Kaptein Outjes aangebied. Dit is ’n betekenisvolle procédé waarin die onskuldige perspektief van die kind tenoor die perspektief van die volwassene afgespeel word. Tutuba se fokalisasie begin met ’n beskrywing van die ongerepte en idilliese dorp en omgewing waarin mense in geluk en harmonie bestaan. Sy ontwaak op die betrokke oggend met die gewaarwording: “Wat een heerlijke ochtend, vogeltjes kwetterden alsof ze ook blij waren met het mooie frisse ochtendgloren” (7). In die aanvangspassasies word beskryf hoe sy vrolik na ’n dorpbewoner uitroep, die begeerte voel om te huppel (8) en tot die gewaarwording kom dat sy baie gelukkig is om met een van die sterkste en dapperste jongmanne in die dorp te trou (9). Die novelle sluit aan by die algemene opvatting oor kinders as onskuldig en die kinderjare as ’n idille (Reynolds, 2005: 29). Tutuba se onskuld blyk verder uit haar gebrek aan bevooroordeeldheid ten opsigte van fisieke voorkoms, soos blyk uit haar waarneming van haar tante Sanu se geskende gesig: “Tutuba vond haar niet lelijk, ach wat was lelijk”. Dit verander dramaties wanneer sy deur menserowers gevange geneem word en verkoop w...