Die drie-dialek-hipotese Voorbeeld Klousules

Die drie-dialek-hipotese. Die drie-dialek-benadering tot die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans is in ’n sekere sin ’n oorgang tussen die ontwikkelings- en die kontakhipotese. Nêrens in die literatuur van die voorstanders van hierdie benadering word dit eksplisiet so gestel nie, maar dit sal uit die bespreking wat hier onder volg, duidelik word dat Oosgrens- of Transvaalse Afrikaans ’n meer spontane ontwikkeling uit 17de- eeuse Nederlands kan veronderstel, terwyl Khoi-Afrikaans en Slawe-Afrikaans duidelik aanleerdersvariëteite is wat die moedertale van die Khoi en van die slawe onderskeidelik verplaas het. Daarom is die drie-dialek-hipotese myns insiens byna ’n hibridiese hipotese tussen die verwantskapshipotese en die kontakhipotese. Teen die agtergrond van die intertaalteorie word geargumenteer dat sodra een of meer tale met mekaar in kontak kom, sodanige tale mekaar op verskillende maniere beïnvloed. In ’n koloniale situasie, soos in die Kaapse samelewing van die middel van die 17de eeu, word die taal van die koloniseerder die teikentaal van die gekoloniseerde. In die geval van die Kaap net ná die koms van Van Riebeeck in 1652 het Nederlands toenemend die teikentaal vir die Khoi-sprekende inwoners van die suidpunt van Afrika geword. Die Khoi streef dus daarna om Nederlands te praat, maar bereik nie die teikentaal nie. Die Khoi verwerf dus ’n intertaalvorm van Nederlands, Khoi-Afrikaas, naas hulle moedertaal Khoi (vgl. Du Plessis, 1994 en Van Rensburg, 1994). Volgens Schoeman (2012: 120) kry Van Riebeeck dit in 1658 reg om die eerste slawe in die Kaap te kry en op 28 Maart, skaars ses jaar ná die koms van die VOC, kom die eerste 82 slawe in die Kaap aan. Hierna word slawe uit Afrika en verskillende dele van die Ooste na die Kaap ingevoer. Al het baie van die slawe Oosterse tale gepraat, impliseer die uiteenlopende herkoms van die Kaapse slawe dat hulle selfs met mekaar moes kommunikeer in ’n taal anders as hulle moedertaal. Hiervoor word die eienaars se tale, wat Nederlands insluit, as teikentaal gebruik en in die strewe na die beheersing van die teikentaal ontstaan ’n verdere intertaalvorm met ’n sterker Oosterse inslag en ’n ander sosiale reikwydte. Aanleerders bereik egter byna nooit volkome die teikentaal nie, en verskillende variëteite van die intertaal is die gevolg hiervan. Hierdie intertaalvariëteite word dan op ’n glyskaal van vaardigheid in die teikentaal benoem as pidgin, kreools en so meer. Daar word ook na hierdie vorme as aanleerdersvariëteite verwys. Die derde vari...