Die kontakhipotese Voorbeeld Klousules

Die kontakhipotese. Daar is reeds vroeër in hierdie artikel gewys op die klemverskuiwing in taalkundiges se beskouing van die ontstaan van Afrikaans. “In ’n soeke na die wortels van Afrikaans het vroeë taalkundiges op die raakpunte tussen Afrikaans en Nederlands gefokus. Die invloed van die nie-Europese tale het min aandag gekry. Gaandeweg is ’n rigtingverandering in hierdie studies opgemerk,” merk Van Rensburg (2013: 1) reeds in die opsomming van ’n artikel oor Khoi- Afrikaans op. Die siening oor die dialektiese ontstaan van Afrikaans wat in die voorafgaande afdeling uiteengesit is, is ’n sprekende voorbeeld van sodanige klemverskuiwing waaroor taalkundiges, soos Den Besten (1989) en Ponelis (1995), naas die variasiekundiges, hulle uitlaat. Van Rensburg (2015 en 2016) se meer onlangse siening plaas die invloed van Khoi op die ontstaan van Afrikaans nie net meer sentraal nie, maar dui ook op die bestaan van ’n Afrikaanse intertaalvariëteit nog voor die koms van Jan van Riebeeck. Hierdie dialektiese vorm van Afrikaans word later na die binnelandse grensgebiede versprei deur verskillende groepe sprekers. Van Rensburg meen op dieselfde plek selfs dit “kon moontlik die belangrikste fase in die geskiedenis van Afrikaans gewees het, waartydens die manier waarop dit gepraat is, indringend gewysig is”. Dat daar in die geskiedenis van Afrikaans al van so vroeg af as 1595 taalkontak tussen Khoi en Nederlands was, is natuurlik nie ’n nuwe insig nie, want G.S. Nienaber (1963: 6 e.v.) toon dit al meer as 50 jaar gelede aan. Van Rensburg (2016: 1) argumenteer dat Khoi-Afrikaans heel moontlik met die besoek van De Houtman se vloot aan die Kaap in 1595 begin het as die Aanleerdersnederlands van die Khoi-sprekers wat Nederlands probeer praat het. Dit impliseer dat Khoi-sprekendes Nederlands as teikentaal gesien het. Dit was aanvanklik vir die Skiereilandse Khoi nodig om Nederlands aan te leer vir handelsdoeleindes omdat ruilhandel met die skeepslui voordelig gelyk het. Die skepe was naamlik aangewese op die inheemse inwoners vir produkte soos vars water en vleis. Mettertyd was die kontak nouer en van die Khoi moes Nederlands ook aanleer vir die uitvoer van beperkte administratiewe pligte. Daar was ook sprake van nouer skakeling met die ander Nederlands-vreemde sprekers aan die Kaap. Hierdie sprekers het volgens Van Rensburg (2016: 22) egter nie by Nederlands as doelwittaal uitgekom nie. Khoi-Afrikaans is in ’n diglossiesituasie naas Khoi gebruik, wat daarop neerkom dat Khoi-Afrikaans die pres...