Die verwantskapshipotese Voorbeeld Klousules

Die verwantskapshipotese. Meyer de Villiers (s.j.: 4) argumenteer dat daar twee redes is hoekom ons mag aanneem dat daar ’n “eng verband” tussen Afrikaans en Nederlands is, die een van taalkundige aard en die ander histories van aard. De Villiers voer dan as taalkundige argument aan dat Nederlandssprekendes en Afrikaanssprekendes mekaar verstaan, terwyl Duits- en Engelssprekendes nie Afrikaans verstaan nie. Hierdie standpunt bots met Van Rensburg en met Valkhoff se waarnemings, soos hier bo bespreek. De Villiers (s.j.: 8 e.v.) wys in Hoofstuk 2 ook op die “duidelike sisteem” wat daar bestaan in die verskil tussen Afrikaans en Nederlands. Dit gaan met ander woorde in die spontane beskouing om die beskrywing van sistematiese verandering in die ontwikkeling van Afrikaans uit Nederlands. Dit veronderstel ’n natuurlike of dan spontane proses van reëlmatige ontwikkeling van moderne Afrikaans uit ou Nederlands. Edith Raidt, as ’n belangrike eksponent van die verwantskapshipotese, verklaar met groot stelligheid: “Ons weet dat Afrikaans uit 17de-eeuse Nederlands ontwikkel het.” (Raidt s.j.: 171) Die ontwikkeling wat hier ter sprake is, is die gevolg van “normale taalverandering,” meen sy (Raidt s.j.: 173). Sy (s.j.: 93) wys wel daarop dat die kontak tussen Nederlands en Khoi reeds van die landing van Van Riebeeck af bestaan het en dat daar ’n “werkgewer-werknemer-situasie” was. Raidt aanvaar verder in dieselfde paragraaf dat die amptenary wye handelskontakte met die Khoi gehad het. Teen 1679 word die eerste plase anderkant die Kaapse Vlakte aan vryburgers toegeken en taalkontak word in daardie tyd ook algemeen met ander Europese immigrante aan die Kaap. Ofskoon van die literatuur oor die Kaapse samelewing van daardie tyd (vgl. byvoorbeeld Giliomee, 2003: 2-3) die skaal van hierdie soort kontak met die Khoi betwyfel, het taalkontak reeds van 1595 af tussen Khoi en Nederlands bestaan (vgl. Nienaber, 1963: 6 e.v. en Van Rensburg, 2016: 1). Raidt verkies om die taalkontaksituasie te onderspeel en sy (s.j.: 176) gaan selfs uit haar pad uit om te beklemtoon dat die ‘opgevoede’ Nederlanders aan die Kaap moeite doen om hulle Nederlands versorg te gebruik en goeie Nederlands in stand te hou. ’n Mens wonder egter wat die invloed van hierdie groep sprekers op die taal van die Kaap was as die klein getalle van hierdie groepie in ag geneem word. Volgens Ponelis (1993: 2) was daar in 1661 105 sogenaamde vryliede en 120 VOC- amptenare. VOC-amptenare sluit egter soldate en matrose in, wat beteken dat die “...